Mathys Roets Live by die RhinoCon saam met Chris J. Mocke

Op die koel wintersaand van Donderdag die 27ste Junie, is Hoedspruit, en ons by die Rhino Convention Centre, betower deur die meesleurende musiek van Mathys Roets en Chris J. Mocke.

Ons was reeds in ons noppies toe ons sowat ’n maand gelede Mathys se besoek aan Hoedspruit kon bevestig. Toe Chris (wat sopas sy Helichrysum & Riverine album vrygestel het) instem om die verhoog bietjie op te warm, het ons met sekerheid geweet dat hierdie ’n ryke geleentheid sou wees. Mathys en Chris se verwelkoming is behartig deur Hoedspruit FM omroeper Jozua Van Wyk, wat gaaf genoeg was om met die kunstenaars op sy middagprogram te gesels, en ons het bietjie meer geleer oor elkeen se talentreis. Klaarblyklik is dit die egtheid van die kunstenaars wat die musiek so eerlik maak.

Mathys Roets saam met Jozua Van Wyk van Hoedspruit FM

Teen sesuur het die gaste opgedaag by Jackals & Wolf met ’n definitiewe afwagting, en toe Chris J. Mocke die planke vat, het dit slegs ’n paar note geneem om beloon te word daarvoor, en heeltemal tot vervoering gebring te word. Helichrysum & Riverine is ’n opus wat handel oor die realiteite en diep gevoelens van ware, opoffer-liefde – en die musiek praat direk met die hart. Dit laat dan die mond oophang van verbasing terwyl die oë refleksief begin traan. Gaan luister gerus weer na Map Of Your Heart.

Chris J. Mocke met intensiteit

Ons het vir Mathys ’n rolstoeloprit vir die verhoog gebou, en as hy op ’n fiets was, het hy tot op die verhoog ge-“ramp” – die entoesiasme wat Mr. Roets ’n nasionale skat maak. Met kitaar en mikrofoon het Mathys ons gelei in samesang van bekende liedjies geskryf deur Cohen, Diamond en Du Plessis met sy eie bydrae van persoonlik-beleefde vreugde en pyn. Soos op Authentiek, is die klinkklare boodskap om voluit te leef, jouself gereeld uit te daag, en jouself toe te laat om ’n wye spektrum van emosie te beleef. En die brandstof vir daardie emosie is die vertoning self. Sommige van die liedere was suiwer heimwee, terwyl ander weer opgekikker het, en tussendeur die staaltjies en grappies wat spruit uit ’n leeftyd van toer en vermaak. Geselligheid van self.

Mathys Roets betower en bekoor

Die Rhino Convention Centre se kombuis het betower met ’n lieflike opskepete wat die honger die duister ingedryf het, en die warm hartsgloed na die lyf versprei het. Die speldval-stilte van die vertoning is versag deur die geklingel van eetgerei en lekker gesels oor wyn en malva-poeding.

Dit is ’n reuse voorreg vir die Rhino Convention Centre om sulke gehalte vermaak te kan huisves en ondersteun, en ’n voorreg om hiermee ons gemeenskap te dien. Ons maak eersdaags weer so…   

One Reply to “Mathys Roets Live by die RhinoCon saam met Chris J. Mocke”

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *